Beschreibung
Teen die tyd wat die Tweede Wêreldoorlog ten einde loop, is sy intiem vertroud met die pyn van verlies en onderdrukking, armoede en hongersnood, en meer as ooit haat en verag sy oorlog. Maar dit is nie die einde van die reis nie. Dit besef sy eers toe sy en haar kind hulle weens omstandighede waarvan niemand sou kon droom nie, in Duitswes bevind.
Wat môre sal bring en waar sy en haar dogtertjie ’n heenkome sal vind, weet niemand. Soms weet sy nie of God haar nog hoor wanneer sy bid nie.
Hierdie lekkerleesroman wat strek oor die twee Wêreldoorloë en uiteindelik, via Suid-Afrika, in Namibië eindig beloof om Irma Joubert se lesers weer weg te voer na lande en tye wat nie aan ons bekend is nie. Soos altyd is die styl maklik, maar soos soveel keer te vore is, wys Joubert ook die donker kant van die mens.
Oorlog is verskriklik. Gelukkig is daar altyd hoop in al Irma Joubert se romans.
Immer wes is die eerste boek in haar nuwe trilogie. Al drie verhale het as kern die lyding van vroue en kinders. Joubert sê “dit maak nie saak wie die vyand is nie, die vergrype teen die mens is dieselfde. Sodra honger oorneem, word die mens soos ’n dier”.